You need flash!
no cover -  

Die Briels

goth doom metal spotify Afrikaanse Volksmusiek

Die Briel-gesin se musiek staan sy plek met reg vol tussen nuwe Afrikaanse klanke wat vandag gehoor word. Die Briels het die eerste “betrokke” musiek in Afrikaans gemaak, dekades voordat mense soos Johannes Kerkorrel en Anton Goosen se Kommissie van Ondersoek dit gedoen het. Hulle het in hul musiek die snelle ekonomiese, politieke en sosiale veranderinge sedert die ontdekking van goud aan die Witwatersrand en die groot depressie van 1929 tot 1933 op ‘n unieke manier gedokumenteer.
Daar is die vraag waarom Afrikaanse liedjies in die vroeë jare dertig tot vyftig so deurspek was met gedagtes van lyding, eensame weeskinders, dood, verlange na die ouerhuis en die plaas. Die antwoord lê in die drastiese veranderinge in die sosiaal-kulturele omstandighede van die Afrikaner met die ontdekking van goud in 1886. Na sowat tee eeue van ‘n ongebonde boerelewe het ingrypende veranderings die landelike Afrikaner in die gesig gestaar. Met die runderpes van 1896, die Tweede Vryheidsoorlog van 1899 tot 1902, die groot depressie van 1929 to1933 en die groot droogte van 1932 tot 1933 het die Afrikaner baie verarm. In 1921 was daar na raming 120 000 armblankes in Suid-Afrika en in 1934 sowat 300 000 – byna almal Afrikaners.

Die armblankes het in hul duisende na die stede gestroom op soek na werk. Waar die Afrikaners vroeër gewoond was aan die rustigheid van die plaas, was hulle nou saamgehok in tente, krotte en blikhuise. Hulle het ‘n ongeskoolde arbeidersklas geword – hulle het steenmakers, mynwerkers, wasgoedwassers, koerantverkopers en karweiers geword om liggaam en siel aanmekaar te hou. Dié omstandighede was die teelaarde van die soort musiek wat deur onder andere die Briel gesin gemaak is. Om hierdie wroeging te verwerk het die Afrikaner aan die een kant vrolike Boeremusiek gespeel, en aan die ander kant sy leed in sang verwoord. Dit is natuurlik te verstane dat veral diegene wat self deur omstandighede geknel is, hierdie musiek sou aangryp.

Francois Petrus Rudolph Briel (Frans) is op 5 September 1919 in Bloemfontein gebore. Frans was twee jaar oud toe sy pa oorlede is en hy in ‘n kinderhuis in Bloemfontein geplaas het. Hy het alle kontak met sy ma verloor en haar eers in die vyftigerjare weer opgespoor. Susanna Helena Venter (Sannie), gebore op 19 Junie 1923 as een van sewe kinders, is op die ouderdom van sewe jaar in die kinderhuis op Ugie geplaas. Na die dood van haar pa, ‘n voorman op ‘n plaas naby Lady Grey, kon haar ma die gesin met sewe kinders nie langer onderhou nie. So is Sannie saam met haar drie broers na die kinderhuis, waar sy tot na haar veertiende verjaardag gebly het. Frans en Sannie het albei opeiding in die toentertydse nywerheidskole ontvang, maar werk was skaars.

Sannie het Frans in Bloemfontein ontmoet – hy was 22 en sy 19 jaar oud. Haar broer het hulle aanmekaar voorgestel. Hulle is in dieselfde jaar (1942) getroud. Frans het aanvanklik as oorlaaikruier en vragmotor bestuurder vir die spoorweë gewerk, terwyl Sannie by verskeie teaters as plekaanwyser en kassiere gewerk het. Hul dogter, Anita, is op 16 Julie 1949 gebore en verhuis na hul Pretoria. Vyf jaar later, op 12 September 1954, is hul seun, Fransie, gebore. Frans het in Pretoria weer by die spoorweë en daarna by Yskor gewerk. Sannie was by verskeie teaters ‘n bekende gesig as plekaanwyser en het later vir ‘n tyd lank bestuurder by die Roxy-teater geword. Sy en Frans het saam-saam by Yskor begin werk. Hy by die yster-walse, waar metal gesny word, en sy as kraandrywer by de oond.

Frans het altyd by die huis geneurie, resitasies geskryf en dit dan gesing. Later het Sannie begin saamsing. Dié twee weeskinders se verlange en smagting na ‘n eie ouerhuis het gou gestalte gekry in liedjies waarvan Frans self die woorde en musiek geskryf het. Een van Sannie se jonger broers het ‘n toets bandopname laat maak, dit aan Arthur Harris van Trutone platemaatskappy voorgelê, en so is hul eerste 78opm plaat, My Vader (met My Moeder op die keersy) op 24 Augustus 1955 gemaak. Die Briels is eers na winkels genooi om daar op te tree en later het hul konserte op baie plekke gehou. In die tydperk vanaf hul eerste plaat en die beëindiging van die vervaardiging van 78opm platein Suid-Afrika in 1961, het hulle reeds meer as ‘n honderd opnames gemaak.

Anita het as sesjarige in 1956 begin saamsing. Haar eerste opname met haar ouers was My Bruin Oog Boetie – daarna het sy gereeld saam met hulle opnames gemaak. In Augustus 1961 word Fransie vir die eerste keer op plaat gehoor. Saam met Anita en Frans neem hy Ek Is Fransie op. Fransie het egter net op drie opnames gesing.

Anita het in haar tienerjare as ‘n sangeres in eie reg ontwikkel en laat verskeie solo-langspelers die lig sien. Van haar solo-opnames is Braaivleisaand, Sy Leer My Om Te Jodel, Ek Min Jou en In Die Groen Vallei, wat haar groei en talent as solokunstenaar pragtig weerspieël. In 1971 neem sy ‘n langspeler onder die Trobadour etiket op waarna sy by Brigadiesr platemaatskappy aansluit. Sy neem ‘n langspeler, getiteld Goeiemôre Goeiedag onder die skuilnaam Nita Liza op. Die plaat kry lof van die kritici en Anita word vir ‘n SARIE-toekenning as Suid-Afrika se beste sangeres genomineer. Fransie maak geen opnames nie tot hy saam met Anita in 1972 as die sangduo Boet en Sus die langspeler Hello-A opneem. Anita het die lirieke vir die meeste liedjies op die langspeler geskryf en Fransie het die verwerkings gedoen. Fransie was vir jare li van die Weermag se vermaaklikheidsorkes.

In 1973 is Anita getroud met ‘n boer, Tinus de Jager. Sy verhuis na Burgersfort in die Oos Transvaal en vind dit moeilik om dikwels Johannesburg toe te reis vir opnames en optredes. Sy besluit daarna om uit die musiekwêreld te tree. In 1981 verhuis Anita se ouers na haar en Tinus se plaas toe. Frans se gesondheid het begin agteruitgaan . Op 4 November 1985 is Frans Briel aan kanker oorlede. So kom ‘m era van Brielskeppings tot ‘n einde. In 1990 tree die legendariese Briels – Sannie, Fransie en Anita (met haar vier kinders) op by die Houtstok-musiekfees. Hulle is op ‘n oorweldigende wyse deur 20 000 musiekliefhebbers ontvang. Beeld se resensent, Theunis Engelbrecht, het geskryf “van al die kunstenaars wat by die fees opgetree het, was die Briels die gewildste.”
Die eerste laserskyf van die Briels se opnames is vir Sannie, wat bedlêend was a.g.v. beroerte, gespeel, en sy het haar vreugde uitgespreek dat hul opnames vir die nageslag bewaar sal bly. Sy sterf op 10 Julie 1996 aan ‘n tweede beroerte. Die Briels het altesaam 482 liedjies opgeneem.


Die Briels 93f165e6b363437ea6eeec864c5fc570
TOPlist